Waarom wiskunde doen?

In die Volksblad JIP van 1.8.2011 staan die volgende geskryf:

Baie mense kla dat hulle nooit na skool die abstrakte konsepte gaan gebruik wat hulle in die wiskundeklas leer nie.

Maar in sy boek Jou kind kan wiskunde doen skryf Johan van Lill wiskunde help jou om vrae te beantwoord, om te skat hoe ver die motor voor jou is as jy bestuur en om uit te werk hoeveel tyd jy nodig het om betyds by die buurskool uit te kom vir vanmiddag se netbalwedstryd.

Hy sê die belangrikste ding van wiskunde is dat dit jou brein ontwikkel.

Sean sê al is dit nie doelbewus nie, het wiskunde hom beter leer dink en Kyla sê moeilike somme leer ‘n mens om uitdagings te hanteer.

Daar is ook verskeie studiegeleenthede vir leerders wat wiskunde geslaag het.

In ’n Helpende Hand Nuusbrief staan ook die volgende:

Deur wiskundige geletterdheid in plaas van wiskunde te kies, beperk die leerder
haar loopbaankeuses. Die goue reël is dat indien die leerder enigsins die
vermoë het om wiskunde te doen, sy dit as vak moet neem ‒ selfs al verg dit
harde werk en lang ure. Wiskunde maak net soveel meer rigtings en beroepsvelde
oop.

Volg gerus die Helpende Hand Nuusbrief vir interessante inligting oor beroepe soos Meganiese ingenieurswese, of lees meer in hul Loopbaangids. Jy kan ook luister na hul Bobaas Beroepe potgooie.

Wiskunde is vir almal!

Gister het Prof. Jonathan Jansen van die Universiteit van die Vrystaat Jim Fouche se leerders kom toespreek tydens opening. Hy het sommer lekker gemaklik met hulle gesels en allerhande stories van sy lewe en ervarings met hulle gedeel. En tussenin het hy natuurlik ‘n paar lewenslesse en waarhede aan hulle oorgedra.

As wiskunde onderwyser, het sy uitsprake/gedagtes oor wiskunde my besonder bygeval en laat nadink. Wat hy vir die leerders gesê het is dat enige iemand die vermoë het om Wiskunde te kan neem en te slaag. Hiermee wou hy veral vir hulle sê dat niemand sommer net mag glo dat hy/sy nie daartoe in staat is om in wiskunde te presteer nie. Net omdat jou ma, pa of iemand anders altyd sê dat hulle nooit wiskunde kon doen nie en hoe aaklig wiskunde vir hulle was, beteken glad nie dat dit vir jou ook waar moet wees nie. Ek stem heeltemal saam met Prof. Jansen. Solank ‘n leerder sy deel doen, hard werk en gereeld sy wiskunde opsom en oefen, sal hy dit kan baasraak – en geniet!

Ek wil tog ook ‘n waarskuwing hierby voeg: Leerders moet pasop dat hulle nie iewers ‘n te groot agterstand opdoen nie, want dan kan dit soms onmoontlik raak om weer in te haal en by te bly!

Verder het Prof. Jansen ook gesê dat in ons land leerders soms net ‘moet opdaag’ om verseker te wees van ‘n slaag. Oor die betekenis hiervan moet die leerders baie mooi nadink. Wil jy ook deel van die massa in ons land wees wat maar net saam met die stroom gaan en net opdaag om die minimum vereiste punte te kry om te slaag?  Dit sal beteken dat jy met daardie massa sal moet meeding vir werk en ‘n plek in ons land se ekonomie. Of, wil jy eerder jou beste gee sodat jy kan uitstyg bo die massa en ‘n positiewe verskil in die wêreld gaan maak? Prof. Jansen het vir JF se leerders gesê dat hulle die toekomstige leiers van ons land is – en daarom is dit hulle verantwoordelikheid om hul beste te doen.

Daar is verder ook twee dinge wat Prof. Jansen as baie belangrik beskou vir geluk en sukses, en dit is ordentlikheid en hoë akademiese standaarde. By Jim Fouche verwag ons ook hierdie twee dinge van ons leerders.

AMESA Wiskunde Kompetisie

Daar is net nie einde aan die JF-leerders se prestasies in Wiskunde nie!!

Die volgende leerders beklee top-10-posisies in die Vrystaat in die Amesa Wiskunde kompetisie:

10de

  • Jemima Meyer (Gr.8)
  • Wilben Pretorius (Gr.11)

8ste

  • Janke Kotzé (Gr.9)
  • Jeanné Bester (Gr.9)

3de

  • Marie-Louise Vermaak (Gr.8)
  • Paul Bester (Gr.11)

2de

  • Josiah Meyer (Gr.9)

1ste

  • Jandewet Linde (Gr.10)
  • Jannie de Wet (Gr.10)
  • Anton Taute (Gr.11)

Baie geluk aan julle almal.

Beste vordering in Wiskunde

Smart School het aan leerders met die best vordering in Wiskunde in elke graad ‘n trofee geskenk wat aan hulle oorhandig is tydens opening by die skool.

Die pryswenners van die verskillende grade vir 2011 is:

  • Gr.8  -  Willem Kruger
  • Gr.9  -  Brendon Venter
  • Gr.10  -  Melishia Kotze
  • Gr.11  -  Chanel Pyper
  • Gr.12  -  Jaco-Yeats Pienaar

Geluk julle!! Ek glo dit het harde werk van julle geverg om so fantasties te verbeter. Of dalk het julle maar net begin om julle huiswerk getrou te doen? :) Ons sal graag wil hoor wat julle raad is vir die ander leerders!

7de in Suid Afrika – WOW!!

Baie geluk Josiah Meyer!!!

Josiah (Gr.9) is na afloop van die 3de rondte van die Harmony Wiskunde olimpiade uitgenooi na die prysuitdeling in Kaapstad. Slegs die beste 10 juniors in die land was uitgenooi. By die prysuitdeling het Josiah die medalje vir die 7de posisie ontvang asook R1000 prysgeld. Josiah se vliegtuigkaartjie en verblyf in die hotel in Kaapstad was alles vir hom betaal. Is dit nie fantasties nie.

Ons is vreeslik trots op hierdie Wiskundige van ons!!

Mnr. Malherbe sê dat hierdie die beste Wiskunde prestasie is wat ‘n JF leerder nog bereik het.

Geheim vir sukses in Wiskunde

Ek het onlangs in ‘n baie ou Wiskunde-werkboekie (gedruk in 1991) ‘n paar waarhede oor die “leer”  van Wiskunde gelees wat sekerlik altyd waar sal bly. Ek haal hier vir julle ‘n gedeelte daarvan aan:

Vir ‘n leerder om sy beoogde doelwit in wiskunde te bereik, moet hy, soos in atletiek en tennis, dieselfde oefeninge oor en oor doen om werklik vaardig te word.

Die leerder moet die wiskunde taal ken, hy moet vaardig wees in wiskundige prosedures en eers dan sal hy in staat wees om logies te dink.

Ek sien uit daarna om julle kommentaar en vrae oor hierdie stelling te hoor!

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 165 other followers